nampo2015 kubota

NAMPO 2016: Veeldoelige voertuie gemaak om te wérk

Besoek die Nampo-Oesdag en gaan kyk na die nutsvoertuig,
veeldoelige laaigraaf (TLB) en trekker wat Kubota daar uitstal.

nampo stand kubota
Kubota Stand at NAMPO – Stand 139

Produktiwiteit en veiligheid in knap werkruimtes gee Kubota die
voorsprong. Hy spog met ’n paar nuwelinge wat by Smith Power Equipment se Nampo-uitstalling te sien is.

Dit sluit in ’n nuwe trekker, ’n veeldoelige laaigraaf (TLB) en
’n nutsvoertuig. Eerste op die lys is die Kubota L45-trekker-laaigraaf-skopgraaf-kombinasie. Dit is ’n veeldoelige grondverskuiwer en volg in die spore van die L39.
Die veelsydigheid van die L45-werktuig stel jou in staat
om swaar vragte te verskuif, slote te grawe of algemene instandhoudingswerk op die werf te verrig. Die skopgraaf kan tot
drie meter diep grawe, hetsy vir slote, heinings, bouwerk en fondasies, of vir die vestiging van nuwe boorde.

L45 Landbouweekblad - 6 Mei 2016

Verskeie toebehore is beskikbaar. Dit kan maklik omgeruil word vir take waarvoor verskillende grawe nodig is. Sigbaarheid is goed en die operateur kan altyd reg rondom hom sien.

Die laaigraaf kan 1 ton tot ’n hoogte 2,8 m lig en maak enige hantering van swaar vragte maklik. Net soos vir die skopgraaf
is toebehore beskikbaar, soos ’n vurkhyserfunksie.

B2650-TREKKER

Die B2650 is die verbeterde weergawe van die B2530-trekker. Kubota se kompakte trekkers is ’n staatmaker vir boere
wat groot take in klein ruimtes moet verrig. Veral groente- en
vrugteboere vind baat by Kubota se B-reeks wat in nouboorde en tonnels kan werk.

B2650 Kubota
B2650 Kubota

Moenie dat dié trekker se grootte jou flous nie. Die nuwe B2650 HDB-trekker in Kubota se B-reeks is ’n gebruikersvriendelike werkesel met ’n dieselenjin wat 19,1 kW lewer, met ’n 14,6 kW-aftakker. Danksy die B2650 se veeldoelige klep kan die trekker met toebehore voor, agter of selfs in die middel met ’n gemonteerde grassnyer toegerus word. Boonop beheer ’n
enkele hefboom die toerusting.

Kubota se hidrouliese tweegangdraai word outomaties geaktiveer
wanneer die voorwiele se draaihoek 35 grade oorskry. Dus is daar skerper draaie teen ’n hoër spoed, maar met minder oppervlakversteuring. Die hidrouliese stelsel verlengook die koppelaar se gebruikstyd.

RTV-X900

Die plaasbakkie sal in die toekoms moet lig loop vir nutsvoertuie, soos die Kubota RTV-X900. Dit is maklik om dit te leer bestuur, maar dit is geen speelding of gholfkarretjie nie. Dié 4×4-voertuig het ’n driesilinderdieselenjin van 898 cc (16,1 kW) en is vervaardig om karweiwerk van mense en klein vragte makliker te maak.

Kubota x900 - Dirt and Trail
Kubota x900 – Dirt and Trail

Die RTV-X900 se ratsheid sorg vir vinnige vervoer tussen skure en krale teen ’n topspoed van amper 40 km/h. Aangesien dié buksie nie ’n plesiervoertuig is nie, maar gebou is om te werk, is die RTV-X900 toegerus met ’n sterk onderstel om swaar vragte en ruwe terrein baas te raak. Die VHT-X-transmissie bied genoeg wringkrag vir groot
take en is toegerus met groot olieverkoelers wat die werking en duursaamheid daarvan verhoog.

Selfs vir beginner bestuurders is die ratte maklik om te verstaan: ’n Hoë en ’n lae rat vir vorentoe, neutraal en trurat. Die voor- en agterwiele is onafhanklik geveer. Die agterste vering is ook in dié nuwe model verbeter vir ’n langer gebruikstyd. Sowel die voorste as

agterste vering is verstelbaar om by swaarder vragte aan te pas.
Die RTV-X900 se grondvryhoogte is 263 mm en dit kan maklik oor klipperige en ongelyke oppervlakke ry. Beskermingsplate onder die
voertuig en rondom die konstantesnelheidskoppeling bied ekstra verweer teen stampe en stote. Die dinamiese remstelsel verhoog veiligheid. Kragstuur, ’n ruim en gemaklike kajuit, paneelkissie en
bêreplek onder die sitplekke is bykomende nuttige eienskappe.
Die RTV-X900 kan 590 kg sleep en ’n vrag van 755 kg dra. Die
voertuig het ’n wipbak om los vrag maklik af te laai. Die bakflap
slaan af om voorwerpe wat langer is as die bak van 1 030
mm beter te dra.

This article was featured in the Landbouweekblad – 6 Mei 2016.

For more information please contact Smith Power Equipment on 011 284 2000.

Check out our Facebook page. [click here]

Check out our Google + page. [click here]

Check out our Twitter Feed. [click here]