B2650 Header

Veeldoelige voertuie gemaak om te wérk

Die Kubota-stal spog met ’n paar voortreflike nuwelinge. Dit sluit in ’n nuwe trekker, ’n laaigraaf en ’n nutsvoertuig vir die plaas. Eerste is die B2650-trekker. Dit is die verbeterde weergawe van die B2530-trekker.

B2650 Kubota
B2650 Kubota

Kubota se kompakte trekkers is ’n staatmaker vir boere wat groot take in klein spasies moet verrig. Veral groente- en vrugteboere vind baat by die gemak waarmee Kubota se B-reeks in nou boorde en tonnels kan werk.

Moenie dat dié trekker se grootte jou flous nie. Die nuwe B2650 HDB-trekker in Kubota se B-reeks is ’n gebruikersvriendelike werkesel met ’n dieselenjin wat 19,1 kW lewer, en ’n 14,6 kW-aftakker. Danksy die B2650 se veeldoelige klep kan die trekker met toebehore voor, agter of selfs in die middel met ’n gemonteerde grassnyer toegerus word. Boonop sal ’n enkele hefboom die toerusting beheer.

Kubota se hidrouliese tweespoeddraai word outomaties geaktiveer wanneer die voorwiele se draaihoek 35 grade oorskry. Dit verseker skerper draaie teen ’n hoër spoed, maar met minder oppervlakversteuring. Die hidrouliese stelsel verleng ook die koppelaar se gebruikstyd.

L45 TLB
Die Kubota L45 TLB bied ’n kombinasie van trekker, laaigraaf en skopgraaf. Dié veeldoelige grondverskuiwer volg in die spore van die L39. Die veelsydigheid van die L45 TLB stel jou in staat om swaar vragte te verskuif, slote te grawe of algemene instandhoudingswerk op die werf te verrig.

Kubota L45 Loader
Kubota L45 Loader

Die skopgraaf kan tot 3 m diep grawe. Verskeie toebehore is beskikbaar. Dit kan maklik omgeruil word vir take waarvoor
verskillende grawe nodig is.

Vanuit die kajuit is sigbaarheid goed. Die operateur kan altyd reg rondom sien waar hy werk. Produktiwiteit, akkuraatheid en veiligheid word danksy die gerieflike kajuit en goeie uitsig ondersteun.

Die laaigraaf kan 1 ton tot ’n hoogte 2,8 m lig en maak enige hantering van swaar vragte soveel makliker. Net soos vir die skopgraaf is verskillende toebehore beskikbaar vir die laaigraaf vir alternatiewe gebruike, soos ’n vurkhyserfunksie.

RTV-X900
Die plaasbakkie sal in die toekoms moet lig loop vir nutsvoertuie, soos die Kubota RTV-X900. Dié ligte, vierwielaangedrewe dieselvoertuig betaal homself terug met sy goedkoper onderhoud,
goeie brandstofverbruik en die tyd wat ditop die plaas kan bespaar. Dit is onnodig om ’n lisensie vir dié voertuig te hê en dit is maklik om dit te leer bestuur.

12087769_569410429881499_5455302517096484168_o

Dit is egter geen speelding of gholfkarretjie nie. Hierdie 4×4-voertuig het ’n driesilinderdieselenjin van 898 cc (16,1 kW) en is vervaardig om karweiwerk van mense en klein vragte makliker te maak.

Die duursame ontwerp is opgewasse vir verskeie ryoppervlakke en die RTV-X900 se ratsheid sorg vir vinnige vervoer tussen skure en krale teen ’n topspoed van amper 40 km/h. Omdat dié buksie nie ’n plesiervoertuig is nie, maar gebou is om te werk, is die RTV-X900 toegerus met ’n sterk onderstel om swaar vragte en ruwe terrein baas te raak.

Die VHT-X-transmissie bied genoeg wringkrag vir groot take en is toegerus met groot olieverkoelers wat die werking en duursaamheid verhoog. Selfs vir beginnerbestuurders is die ratte maklik om te verstaan: ’n Hoë en ’n lae rat vir vorentoe, neutraal en trurat. Die voor- en agterwiele is onafhanklik geveer.

Die agterstevering is ook in dié nuwe model verbeter vir ’n langer gebruikstyd. Sowel die voorste as agterste vering is verstelbaar om by swaarder vragte aan te pas.

Die RTV-X900 se grondvryhoogte is 263 mm en dit kan maklik oor klipperige en ongelyke oppervlakke ry. Beskermingsplate onder die voertuig en rondom die konstantesnelheidskoppeling bied ekstra verweer teen stampe en stote. Die dinamiese remstelsel verhoog die veiligheid en gemak van die rit.

Kragstuur, ’n ruim en gemaklike kajuit, paneelkissie en bêreplek onder die sitplekke is bykomende eienskappe wat hierdie nutsvoertuig plaasgereed maak. Die RTV-X900 kan 590 kg sleep en ’n vrag van 755 kg dra. Die voertuig het ’n wipbak om los vrag maklik af te laai. Die bakflap is verstelbaar om voorwerpe wat langer is as die bak van 1 030 mm beter te hou.

SUID-AFRIKA
Smith Power Equipment in Johannesburg is die plaaslike verspreider van Kubota. Hy bied betroubare naverkoopdiens en onderhoudsplanne. ’n Groot pakhuis met voldoende onderdele vir enige onderhouds- en herstelwerk sorg vir ’n goeie ondersteuningsdiens en gemoedsrus.

This article was featured in the Landbouweekblad – March 2016.

For more information please contact Smith Power Equipment on 011 284 2000.

Check out our Facebook page. [click here]

Check out our Google + page. [click here]

Check out our Twitter Feed. [click here]

John Deere marketing manager Carel Theron