kubota_news

Kubota: Vir die boer vir wie net die beste goed genoeg is

Betroubaarheid, ekonomie en werkverrigting is eise wat vandag se boer aan werktuie moet stel as hy van plan is om volhoubaar te boer. Kubota se puik produkreeks bied die boer al hierdie hoedanighede, met veelsydigheid en blitsige diens op die koop toe.

Kubota word volgens die strengste standaarde en met die gevorderdste ingenieursvernuf van die beste materiaal in Japan, die land bekend vir tegnologiese prestasie, vervaardig. Kubota vervaardig elke onderdeel van elke Kubota-produk self om perfekte gehalte te verseker.

Kyk wat het Kubota vir die boer:

Kubota-trekkers is toonbeelde van ekonomiese doeltreffendheid, en van die kleinste tot die grootste in die reeks word met dieselfde toewyding en sorg vervaardig as die heel duurste trekker wat in die mark beskikbaar is. Elke Kubota is ’n ware, nuttige, bruikbare, professionele trekker.

B-reeks trekkers

Die kleinste Kubota-trekkers is die B-reeks met die B1820 van 13,2 kW, die B2420 van 17,9 kW en die B2530 van 18,4 kW. Die eerste twee is net met rolstawe beskikbaar, maar die B2530 kan ook met ’n kajuit bestel word. Al hierdie trekkers het kanniedood-dieselenjins, kragaftakkers, driepunthysers en is geskik vir ligter werk soos in groentetonnels en om die plaaswerf.

B1820
B1820

L-reeks trekkers

Kubota se L-reeks is geen-nonsens, maklik-om-te-werk, betroubare trekkers en verrassend kragtig om met take waarvoor reuse dieselsuipertrek-kers nie nodig is nie, klaar te speel. Daar is vier modelle in Kubota se L-reeks: Die L3200 van 24,6 kW; die L3540 van 27,6 kW; die L4100 van 30,6 kW; en die L5040 van 38,9 kW. Al vier modelle is met rolstawe toegerus en het vierwielaandrywing wat gedugte vastrapkrag verseker.

L3200
L3200

Smal M-reeks

Met die smal M-reeks gee Kubota se ingenieurs druiwe- en vrugteboere verstommend baie trekkerkrag in die middelkragklas om lag-lag groter werktuie in wingerde en boorde te gebruik. Die smal M7040 van 51 kW is ’n oop trekker met ’n rolstaaf, maar die smal M8540 is in ’n rolstaafmodel van 63 kW met agt ratte vorentoe en agt tru beskikbaar, of met ’n kajuit en tien vorentoe- en truratte. Die kajuitmodel is uitnemend geskik vir bespuiting.

M8540 Narrow
M8540 Narrow

Standaard M-reeks

Kubota se M-reeks lewer verstommende prestasie en word baie nuttig aangewend vir alle take in die kragklas van 53 tot 100 kW. Die M7040 van 53 kW met sy rolstaaf is die kleinste in die reeks. Net groter is die M8540 van 64 kW, wat met rolstaaf of kajuit beskikbaar is. Die rolstaafmodel kan ook met tweewielaandrywing bestel word; die enigste 2 x 4 in die Kubota-stal. Die Kubota M9540 van 71 kW is ook met rolstaaf of kajuit beskikbaar, terwyl Kubota se grootste trekkers, die M108S van 80,6 kW en die M130X van 96,9 kW, net met kajuite beskikbaar is.

M8540 Standard
M8540 Standard

TLB’s

Wat trekker-laaigraaf-slootgrawerkombinasies betref, bied Kubota se BX25D met sy dapper 17,2 kW en L39 met 29,1 kW veel meer veelsydigheid, wat hierdie masjiene nog nuttiger op dieplaas maak: Die BX25D-TLB is volledig trekker met ’n driepunthyser en alles wat aan enige trekker nodig mag wees, maar ook met ’n stewige laaigraaf wat by die skarnierpunt 338 kg tot 1,810 meter hoog kan lig met sy skop wat 1,2 meter wyd is. Sy kitsverwyderbare slootgrawer grawe 1,842 m diep en lig 1,533 m hoog.

BX25D
BX25D

Benewens sy agterste kragaftakker, het die BX25D-TLB ook ’n kragaftakker in die middel vir die montering van ’n grassnyer, wat dit ’n volwaardige vier-in-een-werktuig maak. Vir swaarder laai-, slootgrawe- of trekkerwerk is die L39 met sy driesilinderenjin van 29,1 kW, twaalf vorentoe- en agt truratte die perfekte antwoord. Soos die kleiner BX25D, kan ’n mens sy slootgrawer en laaigraaf klieks-klaks verwyder en sy driepuntskakels aanhaak om hom soos ’n volwaardige, voortreflike trekker te gebruik. Sy laaigraaf lig ’n volle ton, gemeet by die middel van die bak se boom, 2,9 meter hoog by die skarnierpunt of 2,285m hoog by die onderkant van die bak tydens die uitgooi-aksie.

Om die L39 se slootgrawer te gebruik, swaai jy die sitplek om, laat die hidroulies-beheerde stabiliseerders vastrap en siedaar – jy het ’n volwaardige trekskop (“back acter”) wat tot 3,073 m diep kan grawe met’n wegbreekkrag van 25 892 Nm en ’n uitgooihoogte van 2,319 m.

Kubota se L39 is ’n volwaardige trekker, ’n volwaardige slootgrawer en ’n volwaardige laaigraaf.
Kubota se L39 is ’n volwaardige trekker, ’n volwaardige slootgrawer en ’n volwaardige laaigraaf.

Rowweterreinvoertuie

Soos alle ander Kubota-produkte, is Kubota se dieselaangedrewe RTV’s ook in ’n klas van hulle eie wat ekonomie, bruikbaarheid, duursaamheid, betroubaarheid en gebruikersgerief betref. Die Kubota RTV900 kan 40 kmu draf met ’n vrag van 740 kg op sy wipbak en met sy vierwielvastrap stap hy gemaklik oor die moeilikste terrein. Die RTV1140CPX is ewe rats met sy diesel-enjin van 18,5 kg, maar sy ruim laaibak se voorste deelkan in ’n japtrap oopvou om ’n tweede banksitplek te vorm vir gerieflike personeelvervoer.

RTV 1140
RTV 1140

Grassny word ’n droom

Die huidige arbeidstoestande vereis dat boere soveel as moontlik moet meganiseer en die veiligheidstoestande vereis al hoe groter oop ruimtes rondom opstalle. Dit bring al hoe meer gras mee wat gesny moet word, en ook hier dien Kubota die boer met die perfekte oplossing. Grassny is maklik en vinnig met Kubota se Z-reeks serodraaisnyers wat op hulle spore kan omdraai, bestaande uit die ZG227 van 20,1 kW, wat 2,125 meter wyd sny; die ZD221 van 15,1kW met dieselfde snywydte en die ZD331 van 23,1 kW met ’n snywydte van 2,834 meter. Daarbenewens bied Kubota ook twee stuurwielgrassnyers:

T2080
T2080

Die T2080 met ’n enjin van 14,9 kW en ’n snywydte van 1,067 m; en die F3680 met sy allemintige enjin van 26,8 kW en ’n snywydte van 1,826 meter teen ’n spoed van tot 20 kmu. Met Kubota is die boer nie net verseker van die gevorderdste, maar betroubaarste en duursaamste werktuie nie, maar ook vir die stiptelikse, mees toegewyde diens. Kubota SA se produkbestuurder, Deon Engelke, sê immers: “Daar is nie een ontevrede Kubota-kliënt in Suid-Afrika nie. As daar een was, sou ek nie nou hier met jou gesit en praat het nie; ek sou by hom gewees het, besig om sy probleem op te los.

As net die beste goed genoeg is vir jou boerdery, praat met Deon Engelke by 083-306-8655 of e-pos deon@kubotasa.co.za. Besoek ook www.kubotasa.co.za vir inligting oor produkte en om te kyk waar die Kubota-handelaar naaste aan jou is.

Article was published in the ProAgri – July 2014.

For more info on Kubota please call Smith Power Equipment on 011 284 2000

Check out our facebook page. [click here]

Check out our Google + page. [click here]

Check out our Twitter Feed. [click here]