Deon Engelke

Uitdaging: Wys my ‘n ontevrede Kubota boer!

So sekuurseker is Deon Engelke, produkbe­stuurder van Kubota SA, van sy saak dat hy enig­iemand uitdaag om vir hom ’n ontevrede Kubotaboer in Suid-Afrika te bring.

As daar ’n ontevrede Kubota-eienaar was, sou ek nie nou hier gewees het nie,” verklaar hy: “Ek sou by hom op sy plaas gewees het besig om hom tevrede te maak.

Deon se vertroue berus op twee stewige pilare:

Eerstens is Kubota die onbetwiste wêreldleier in sy klas.

Dit is nie toevallig nie. Waar ander trekkervervaardigers hier ’n enjin, daar ’n vooras en agter die bult ’n ratkas aanmekaarsit en hulle kleur verf, vervaardig Kubota elke onderdeel, tot die kleinste boutjie of veertjie, self volgens sy eie staalstreng standaarde.

Daar is nie een ander trekkerfabriek in die wêreld wat Kubota se perfekte masjinering kan nadoen nie. Selfs luukse motors steek in hierdie opsig teen Kubota af.

In die Ooste werk Kubota-trekkers dag na dag in sopperige, nat ryslande waar nie ’n enkele waterspatseltjie regkry om deur die seëls of pakstukke te dring nie. Dit beteken dat ’n Kubota-trekker ook geen olielekke het nie en dat stof en sand geen kans staan om jou Kubota te benadeel nie.

Die Kubota-dieselenjin met sy gevorderde driedwarrel­ontbranding is die toonbeeld van ingenieursvernuf wat vir die boer die toppunt van betroubare, ekonomiese, duursame kraglewering beteken, en elke Kubota-model is presies volgens die boer se behoefte ontwerp en vervaardig.

Dis hoekom Deon volle vertroue in Kubota as produk het.

Die tweede pilaar waarop sy vertroue berus, is die feit dat Kubota in Suid-Afrika is om te bly en die boer voluit te dien.

Kubota SA is deel van die gevestigde maatskappy, Smith Power Equipment, wat al baie jare lank spesia­liste in presisiewerk soos gholfbaan- en parkonderhoudtoerusting is en sedert vroeg 1997 met mening tot die landboumark toegetree het.

Smith Power Equipment doen nie halwe werk nie en werk nie met ’n halwe hart nie. As jy die boer wil dien, moet jy hom en sy omstandighede volkome verstaan.

Daarom het Kubota SA Deon Engelke in 2005 as produkbestuurder aangestel. Hy het op ’n plaas grootgeword en het 25 jaar ervaring in die trekkerbedryf.

Kubota SA se gebiedsbestuur­ders, tegniese personeel, onderdelemanne en handelaars regoor die land is ook fyn uitgekies en streng gekeur om die boer ’n nommerpas diens op sy drumpel te bied.

Kubota kla nie as ’n handelaar ook ander produkte, selfs ander trekkers, aanhou nie. “Die man met die beste produk en diens hoef mos nooit bang te wees nie,” sê Deon Engelke, “en Kubota se vooruitsigte is goed en groot.”

Sedert 2005 het Kubota ’n groei van 800% in Suid-Afrika beleef en nog boere sluit by die dag by Kubota se groot aantal tevrede kliënte aan.

Dis hierdie vertroue wat vertroue by die boer wek.

Vir meer inligting oor Kubota, die puik trekker met die sterk rugsteundiens, skakel 011-284-2000 of besoek www.kubotasa.co.za.

This article was published on ProAgri’s website. 

Check out our Facebook page. [click here]

Check out our Google + page. [click here]

Check out our Twitter Feed. [click here]